Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 28 DESEMBER 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

ONVERWAGTE KOSTE MAG VIR DIE NAMIBIESE DX-PEDISIE PROBLEME SKEP

SUID-AFRIKA HET OOK ‘N WEDERSYDSE OOREENKOMS MET DIE VERENIGDE STATE VAN AMERIKA

BESONDERHEDE OOR PIC-PROJEK OP DIE WEB OPGEDATEER EN UITGEBREI

WES-AUSTRALIë VERSKERP SY AKSIES IN ‘N POGING OM DIE VKO TE HUISVES

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie – en ander belangrike – en interessante nuusitems.

ONVERWAGTE KOSTE MAG VIR DIE NAMIBIESE DX-PEDISIE PROBLEME SKEP

Onverwagte uitgawes aan voertuie en toerusting mag vir die Namibiese BHF-/satelliet-DX-pedisie probleme skep. SA AMSAT het ‘n fonds in die lewe geroep om bydraes tot die koste van die ekspedisie te hanteer. Individuele radioamateurs en klubs word aangemoedig om bydraes te lewer ten einde te verseker dat die Namibiese gebeurtenis ‘n groot sukses sal wees. Bydraes kan in rekening 560153171 van SA AMSAT by ABSA, met takkode 632 005, inbetaal word.

Die ekspedisie sluit bedryf op ‘n aantal BHF-bande en verskillende modusse in. Die span sal onder leiding van een van Europa se top AMA-operateurs, HB9CRQ, staan, en sal maankaatsingwerking op 50, 144, 432 en 1 296 MHz insluit.

Januarie is ook een van die piekmaande vir troposferiese geutvoortplanting oor die Suid-Atlantiese oseaan en ervare tropo-operateurs sal ernstige pogings aanwend om die eerste ooit 144 MHz-kontak, wat die Atlantiese oseaan oorspan, te bewerkstellig.

Satellietwerking word ook beplan en deur van lae aardomwentelende satelliete gevbruik temaak, behoort die ligging van die ekspedisiestasie goeie dekking te bied wat die hele Afrika, en ‘n groot gedeelte van die Oostelike dele van Suid-Amerika, insluit.

Die span sal op 5 Januarie in Pretoria byeenkom en sal vroeg die volgende oggend vir die tog na Luderitz vertrek, waar die stasie na aankoms daarvan in bedryf gestel sal word. Dit word verwag dat die laaste dag van bedryf 16 Januarie sal wees.

Help asb. met ‘n finansiële bydrae. Wanneer geld dmv. die internet oorgeplaas word, dui asb. aan dat dit vir die Namibiese DX-pedisie is, en stuur ‘n e-pos aan saamsat@intekom.co.za met u kontakbesonderhede. Alle bydraes sal op SA AMSAT se webwerf erken word.

SUID-AFRIKA HET OOK ‘N WEDERSYDSE OOREENKOMS MET DIE VERENIGDE STATE VAN AMERIKA

In verlede week se bulletin is die VSA per ongeluk uit die lys van lande uitgelaat met wie Suid-Afrika wederkerige ooreenkomste betreffende amateurradiolisensies het. Ter wille van volledigheid word verlede week se nuusberig herhaal, maar met addisionele verduidelikings.

Suid-Afrika het die CEPT-ooreenkoms onderteken waarvolgens besoekende radioamateurs van lande, wat lid van die CEPT-ooreenkoms is, aktief in Suid-Afrika vir ‘n tydperk van drie maande – in enige gegewe jaar – kan wees. Dit beteken die gebruik van hul eie roepsein, met die ZS- en die betrokke streekkode daarmee saam. Die stappe wat ‘n besoekende amateur moet volg is om ‘n e-pos te stuur aan admin@sarl.org.za met die datums van sy/haar besoek, roepsein en kontakbesonderhede in Suid-Afrika. Magtiging om onder die dieselfde lisensieklas soos vir sy/haar tuisroepsein te bedryf, is outomaties. Besoekers moet voldoen aan al die vereistes van die Suid Afrikaanse Amateurradioregulasies

Vir buitelandse amateurs wat ‘n permanente roepsein in die RSA wil bekom, is dit nodig om aan die standaardprosedures van die RAE te voldoen – skryf van die eksamen, en indien nodig, deur die standaardprosedures vir die opgradering na ‘n ZS.

Indien die persoon egter van ‘n land is waarmee Suid-Afrika ‘n wedersydse ooreenkoms het, kan ‘n gelykwaardige klas lisensie van OKOSA bekom word deur die nodige dokumente aan die SARL, óf direk aan OKOSA, voor te lê. Tans het Suid-Afrika ‘n wedersydse ooreenkoms met die volgende lande:

Die Verenigde State van Amerika;
Die Verenigde Koninkryk;
Duitsland;
Israel;
Die Nederlande;
Switserland;
Chili;
Portugal;
Botswana, en
Swaziland.

Suid-Afrika het aanvanklik ook ‘n wedersydse ooreenkoms het Rhodesië gehad, maar die Zimbabwe-regering het dié ooreenkoms eensydig gestaak.

Om ‘n wedersydse lisensie-ooreenkoms aan te gaan is ‘n ingewikkelde proses en word deur die departemente van buitelandse sake van beide lande hanteer. Ten tyde van die ondertekening van die ooreenkoms met die VSA, het dié proses intensiewe steunwerwing geverg deur wyle senator Barry Goldwater – destyds ‘n prominente radioamateur in die VSA.

Daar bestaan tans geleenthede om wedersydse lisensie-ooreenkomste met ander lande aan te gaan. Vanuit ‘m SARL-oogpunt sal dit ‘n mosie by die AJV verg om die Raad ‘n mandaat te gee om so ‘n proses aan die gang te sit. Lede het tot 31 Januarie tyd om mosies by die SARL in te dien. ‘n Mosie vereis ‘n voorsteller en ‘n sekondant om die agenda geplaas te word. Mosies kan per e-pos gestuur word aan secretary@sarl.org.za.

BESONDERHEDE OOR PIC-PROJEK OP DIE WEB OPGEDATEER EN UITGEBREI

Die bladsye op die SARL-webwerf is opgegradeer en uitgebrei met ‘n koppeling na ‘n deurklikgids vir die opstelling van die PIC-omgewing, sowel ‘n dikwels gevraagde vrae- en antwoorde-afdeling. Daar is ook besonderhede aangaande die RTA’s vir die Kaap en KZN en tweede gebeurtenisse by die NARS. Besoek www.sarl.org.za, klik op ‘activities’ en dan op RTA.

WES-AUSTRALIë VERSKERP SY AKSIES IN ‘N POGING OM DIE VKO TE HUISVES

Volgens ‘n berig in WIANews versterk die Wes-Australiese regering sy aksies in ‘n poging om te verseker dat die Vierkantkilometeropstelling – die wêreld se grootse beplande radioteleskoop – daar opgerig sal word.

Hulle Minister van Wetenskap en innovasie, Troy Buswell, het aangekondig dat $4 miljoen spandeer sal word om die Boolardystasie, 300 km Noord-Oos van Geraldton, aan te koop, waar hulle beoog om die internasionale fasiliteit van $2,5 biljoen te huisves.

Die fasiliteit sal teen 2025 die grootste en mees omvangryke rekenaarstelsel in die wêreld huisves.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

15 en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf onderskeidelik 13:00 en 17:00 SAT na Indië. 15 m-kontakte met Nieu-Seeland gaan vir 'n kort rukkie om 08:00 moontlik wees. Om 08:00 en weer om 14:00 is daar moontlike flou 20 m-openinge na Australië. Baie swak kontakte met Peru is om 14:00 op 15 m moontlik waarna swak openinge op 20 m moontlik word.

Brasilië kan waarskynlik op 15 m vanaf 12:00 gewerk word en op 20 m vanaf 18:00. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike kort, swak 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA se ooskus is op 15 m vanaf 18:00 moontlik en met die weskus na middernag op 20 m.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Selfs 20 m word bietjie wakker voor oggendtee.

Saans is 80 m die beste keuse. Met somer hier kan die donderstorms en statiese ontladingsgeraas kontakte bietjie uitdagend maak.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou in die nuwe jaar jou aangenaam kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

Ten slotte:

DAGBOEK VAN GEBEURE

10 en 11 Januarie – “Hunting Lions on te Air”;
16 tot 18 Januarie – PEARS BHF-/UHF-kompetisie;
31 Januarie 2009 – Mosies en agenda-items vir die SARL 2009 AJV moet in wees;
Gedurende Januarie – Stuur nominasies vir SARL-toekennings in.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na die laaste nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga in 2008. Dit is deur George, ZS6NE, saamgestel. Die nuusspan bedank almal wat gedurende hierdie jaar bydraes tot die bulletins gelewer het en rig ‘n algemene versoek vir positiewe bydraes tot die bulletins gedurende die komende jaar. Die span wens ook alle radioamateurs ‘n voorspoedige 2009 toe. Ons hoop dat siklus 24 werlik ‘n aanvang sal neem, dat die amateurgetalle sal toeneem, en dat almal die stokperdjie toenemend sal geniet.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003